Simson

'n Kunswerk van Simson en Delila in die Rijksmuseum.

As 'n guerrillavegter sonder gelyke het Simson paniek en verwoesting onder die vyande van die volk Israel gesaai. Tog was die jong Rigter iemand van wie mens eintlik sou verwag het dat hy 'n afgesonderde kluisenaarsbestaan sou voer. Want, volgens die aankondiging van die geboorte van hierdie seuntjie deur die Engel van die Here aan die kinderlose Danitiese egpaar, Manóag en sy vrou, was die kind bestem om Israel uit die hand van die Filistynse oorheersers te begin verlos en sou hy daarom 'n Nasireër (van die Hebreeuse woord nazir: gewyde) van God wees.

Hy sou 'n God-gewyde lewe moes voer en die reëls van die Nasireërs nakom: nooit sy hare laat sny nie, geen wyn of sterk drank gebruik nie en geen dode aanraak nie. Simson het hom egter nie aan die gewone lewe onttrek nie. Saam met die ander weerbare jongmanne van sy stam het hy, deur die Gees van die Here gelei, in die laer van Dan tussen Sórea en Estáol gaan bly. Daar was toe nog nie openlike vyandigheid tussen die Filistyne en die Israeliete nie, en toe Simson 'n jong Filistynse meisie in Timna ontmoet en op haar verlief raak, het hy sy ouers gevra om vir hom ʼn huwelik met haar te probeer reël.

Hoewel so ʼn huwelik met 'n heidense vrou teen die bevel van God aan Israel was, het die Here dit toegelaat omdat Hy hiermee die geleentheid vir Simson wou skep om met die Filistyne slaags te raak. Dat die Here hom buitengewone liggaamskrag gegee het, het Simson uitgevind toe hy op pad na Timna deur 'n jong leeu aangeval is en hy die ongedierte kaalhand verskeur bet. 'n Swerm bye het in die droë karkas ingetrek, en toe Simson onderweg na sy huweliksfees weer daar verbygaan, het hy van die heuning uitgehaal, aan sy ouers gegee en self ook daarvan geëet.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search